Reset Password

click to enable zoom
Loading Maps
We didn't find any results
open map
Your search results

Lekker Eetplekke in die Overberg

Die Kaapse Overberg is beslis nie net ryk aan geskiedenis, gasvryheid en kleurvolle landskappe nie, maar is ʼn lushof van geure, teksture, smake en tradisies. Van eg-Suid-Afrikaans tot eg-Italiaans (plaaslik opgedis), is hier tientalle watertandlekkerdisse verkrygbaar by padstalle, kafees, koffiewinkels en restaurante. Kom reis proe-proe vir ʼn wyle saam met ons deur die ongelooflike Overberg.

Peregrine Padstal, N2 Grabouw

Padstalle wat ʼn moet-stop is al langs die N2 is Peregrine met hul heerlike waarde-vir-geld-pasteie. Smaaklik voorberei, is hier twaalf pasteie om van te kies: van hul beroemde wildpasteie tot spinasie en vegetariese pasteie. Natuurlik is daar ’n groot verskeidenheid tuisvoorbereide-disse en tuisgebak, asook ʼn gesellige restaurant wat Peregrine ʼn heerlike moet-stop maak vir bene rek op jou reis op die N2. Dié padstal is in 1964 deur Kenneth Truter begin en is moontlik een van die eerstes van sy soort in die Wes-Kaap en moontlik selfs die land.

Dassiefontein Padstal en Restaurant op N2 naby Caledon

Die volgende is Dassiesfontein waar jy nie net kan weglê aan heerlike Boerekos voorgesit in blikborde nie, maar ook kan rondsnuffel tussen die verskeie oulike produkte wat te koop aangebied word. Gerieflik geleë langs die N2 tussen Botrivier en Caledon het Dassiesfontein se gewildheid vir die bedien van groot porsies wat waarde vir jou geld is, besoekers gelok van heinde en verre. Die padstal is in 1995 (sonder enige elektrisiteit!) begin deur Sassie en Alda Fick. Brode, pasteie, beskuit, ensovoorts, is in koolstowe gebak. ʼn Jaar later is die restaurantgedeelte aangebou. Die padstal is ten volle gelisensieerd met daaglikse swartbord-maaltye. Hul plaasontbyt is veral gewild en Saterdae word daar ook afval bedien. Sondae is daar ʼn 3 gang-spyskaart om te geniet soos, byvoorbeeld, groentesop met tuisgebakte plaasbrood, botter en konfyt, bobotie, oondgebakte hoender, wildspastei met rys en groente en vir nagereg ’n rolpoeding met vla. Hul kos is werklik smullekker en die spyskaart word weekliks verander. Ander smaaklike etes is gesmoorde lewer of gerookte vark met slaai en selfs die plaasbrood met varkvet en appelkooskonfyt het besoekers aan die terugkeer. Vir ʼn teetyduitstappie is daar heerlike pasteie, oop- of toebroodjies en vir die soettand is daar appeltert, skons, kolwyntjies, beskuit of koeksisters.

Tredici Restaurant in Swellendam is Lekke

Heelwat verder, ook langs die N2 in Swellendam, is Tredici, die Italiaanse manier om te sê ʼn “bakker se dosyn”. Vandat jy deur die indrukwekkende 4 m-hoë deure loop, heers ʼn huislike atmosfeer met fyngebak en spesialisgeregte in hul banketbakkery, delikatessewinkel, bakkery en restaurant. Die argitektuur en binneversiering is Kaaps-Hollandse, gekombineer met die beste van chic Franse en warm Italiaanse style.

Diesel & Creme in Barrydale

Diesel & Crème in Barrydale, is ʼn interessante eetplekkie met ʼn eg-Suid-Afrikaanse spyskaart wat melkkos en lamskerrie in die winter bedien en watertandlekker-boerewors warmbrakke.

La Trattoria Restaurant in Stanford

Geleë in Stanford, is die allerheerlikste, egte Italiaanse proe-ervaring ooit. La Trattoria het in 2016 geopen deur pa Corrado en seun Lionello Giovannetti. Die idee van dié gesellige restaurant is om die gaste op ʼn reis na Italië te neem. Alle pasta word daagliks met die hand voorberei en die bestanddele vir die onderskeie lipleklekker souse is ingevoer of plaaslik verkry. Om dit ʼn volronde ervaring te maak, kan jy ʼn eg-Italiaanse maal saam met Italiaanse wyne geniet. En hul gnocchi gorgonzola is ʼn moet!

Pascal’s Restaurant in Napier

Pascal’s in Napier vier vanjaar hul dekade lange bestaan en is begin deur Mark Kerr and Stephen Nicholenas. Die aktrise Danielle Pascal was oorspronklik mede-eienaar van dié intieme restaurant in Napier se hoofstraat. Disse op die spyskaart sluit in heerlike Griekse lamskenkel, watertandburgers en verfrissende mengeldrankies. Nog ʼn gesellige restaurant in Napier is JD Wines & Bistro, geopen deur die Daneel-familie in 2004. Hul spyskaart bied heerlike varsgebak, ’n smaaklike ontbyt, sappige biefstuk en dekadente Lindt-sjokoladekoek.

Maar wie het gesê nét koffiewinkels, padstalle en restaurant het heerlike kos?

Soetmuisberg Bredasdorp se Pizzas is tops

Soetmuisberg Kafee & Superette in Bredasdorp is ʼn moet-stoep wat heerlike boerekerrievetkoeke, kerrie en rys, houtoondpizzas en die beste hamburgers in die Overberg maak. Soetmuisberg is vernoem na ʼn koei met die naam Soetmuis. Sy het elke keer gaan geboorte skenk op die berg en haar eienaars het haar daar saam met haar kalfie gekry. Behalwe heerlike wegneemetes, spog hul ongetwyfeld ook met die heel lekkerste Paasbolletjies.

Seewaarts is daar Arniston, ook bekend as Waenhuiskrans, wat spog met die Arniston Hotel teen die kus en met die allermooiste seeuitsig. Dit is die enigste dorp in Suid-Afrika wat vernoem is na ʼn skeepswrak en is oorspronklik in 1933 gebou. Gedurende 2003 en 2006 is daar uitgebreide verbeterings en luukse toevoegings gemaak en spog dié hotel met ʼn gesondheidspa, vierster-akkommodasie, ʼn restaurantkroeg en soesji-eetplek asook heerlike ontbyte en hoofgeregte. Hul spyskaart bied, onder meer, vars oesters uit die omgewing; kekerertjies- en tofoe-kerrie; soesji; en gemengde soesjislaai met garnale, salm en avokado, gekrummelde perlemoen en heerlike vars lynvis.

Black Oyster Catcher Restaurant tussen Bredasdorp en Elim

Meer suid is die Black Oystercatcher Restaurant, geleë op die Elim-pad en begin deur die Human-familie toe hul in 1998 wingerde aangeplant het. Die eerste boetiekwyne is in 2003 gebottel en in 2008 is die restaurant geopen. Disse sluit in Thai Green-hoenderkerrie, biefstukpan met knoffel en brandrissie en vars slaai uit hul eie groentetuin. Daar is ook heerlike wyne en boetiekbier.

Nog meer suidwaarts, ongeveer 10 kilometer voor die mees suidelike punt waar die Indiese en Atlantiese oseane ontmoet, is die Sea Shack Struisbaai. Dié juweel het vier jaar gelede voor teen die strand op Struisbaai geopen. Hierdie is ʼn unieke plek met uitsig oor die langste ononderbroke 14 km-strand in die Suidelike Halfrond en is die perfekte plek waar vriende bymekaar kom en ontspan met hul voete in die sand. In die samehorige atmosfeer saam met jou hartsmense langs die seewater, kan jy smul aan vars seekos saam met ‘n yskoue drankie. Hul bied ook ʼn seekosbuffet, peuselbord, spitbraai en gerookte vleis of vis.

PiliPili Strand Restaurant Witsand

Witsand, ʼn dorpie op die oewer van die Breederivier, het in 2013 ʼn gesellige restaurant ryker geword, naamlik PiliPili Beach Restaurant. Dit is die tweede PiliPili-restaurant, nadat Craig Robinson en Neels Swanepoel PiliPili Sedgefield in 2008 geopen het. Hul spyskaart sluit in vars gerolde houtoondpizzas, calamarislaai met feta, pikante rissie, avokado en ʼn soet rissiemayonnaise Hul heerlike mosselpot met ʼn romerige witwyn- en knoffelsous voorgesit in ʼn swart potjie met varsgebakte brood, is werklik ʼn moet.

Ongeag waar jy jou bevind, die Overberg is ʼn wêreld van smake wat wag om ontdek en geproe te word.

Ons dank aan Yolanda vir haar bydrae tot hier Blog Post. Kuier gerus met haar op Facebook by https://www.facebook.com/yolanda.vanzylwessels

Komentaar is welkom en as jy jou restaurant wil voeg, gebruik gerus die “Contact” skakel op hierdie webtuiste van ons.

Trots Suid Afrika:

www.southernstaying.co.zawww.want2stay.comwww.want2stay.co.za : lys en of bespreek jou akkommodasie

Leave a Reply