Reset Password

Doendinge vir Kaapstad

Dis Lekker in Kaapstad
Your search results

Doendinge in Kaapstad

Deel die liefde

1. Gratis staptoere

Ontdek die geskiedenis van Kaapstad met ‘n gratis staptoer. Jy het nie eens nodig om te bespreek nie, dit vind elke dag plaas (groepe van 10 of meer moet ‘n private toer bespreek) en is ongeveer 90 minute lank.
Koste: Gratis
Meer inligting: Free walking tours

 

2. Truth Coffee Roasting

Truth Coffee is deur The Daily Telegraph as die wêreld se beste koffiewinkel benoem. Dit verdien definitief ‘n besoek!
Koste: Koffiepryse is werklik baie billik vir wat mens kry
Meer inligting: Truth Coffee Roasting


3. Besigtig Kaapstad op ’n City Sightseeing Hop On, Hop Off Bus

Hierdie is seker die lekkerste manier om Kaapstad te leer ken. Dié dubbeldekker-busse het meer as 30 stopplekke en wys jou meer as 50 van Kaapstad se gewildste toeriste-aantreklikhede.
Koste: Is per persoon
Meer inligting: City Sightseeing South-Africa


4. Tafelberg-kabelkarretjie

‘n Moet-doen-aktiwiteit as jy in Kaapstad is! Tafelberg is ook een van die Nuwe Sewe Wonders van die Natuur, wat jou net nóg meer rede gee om ‘n uitstappie te beplan!
Koste: Kaartjies begin by R70 per volwassene
Meer inligting: Table Mountain Cableway


5. Stap Leeukop uit

Staan vroeg op of gaan laatmiddag en stap Leeukop uit om die asemrowende uitsig oor Kaapstad te geniet. Die stap neem ongeveer 90 minute.
Koste: Gratis
Meer inligting: Cape Town Magazine of SA-Venues.com


6. Sweefseil van Seinheuwel af

Kaapstad is een van die ongelooflikste plekke om oor te sweefseil (paraglide). Jy het geen ervaring nodig nie, want jy doen dit sommer in tandem saam met ‘n ervare sweefseiler!
Koste: Pryse begin by R1 300
Meer inligting: Cape Town Tandem Paragliding


7. Besoek Boulders Beach se pikkewyne

Boulders Beach naby Simonstad is een van Kaapstad se gewildste strande en die enigste plek in die wêreld waar jy naby aan die Afrika-pikkewyne kan wees.
Koste: Natuurbewaringsfooi teen ongeveer R65 per persoon
Meer inligting: Love Cape Town


8. Besoek die suidelikste punt van Afrika by Kaap Agulhas

Dit is ook hier waar die Indiese oseaan en die Atlantiese oseaan ontmoet.
Koste: Begin by R40 per persoon
Meer inligting: South African National Parks


9. Geniet panoramiese uitsigte op Die Vlieënde Hollander

Kaappunt is ‘n natuurresservaat binne die Tafelberg Nasionale Park en is as ‘n Wêrelderfenisgebied verklaar en strek van Seinheuwel tot Kaappunt en sluit die kuslyn van die Kaapse skiereiland in. Ry met Die Vlieënde Hollander-tandratspoortreintjie, ook bekend as die Kaappunt-Funicular op tot by die Ligtoring vir pragtige uitsigte.
Koste: R50 per volwassene vir ‘n enkelkaartjie of R70 vir ‘n retoerkaartjie
Meer inligting: Cape Point


10. Besoek Bloubergstrand vir die mooiste uitsig van Tafelberg

Bederf jouself met heerlike seekos en ‘n pragtige uitsig van Tafelberg by Blowfish-restaurant in Bloubergstrand.
Koste: +- R350 vir twee mense (volgens Zomato)
Meer inligting: Blowfish Restaurant


11. Vis en tjips by Kalky’s

As jy in die omgewing is, moet jy middagete by Kalky’s eet. Dis groot porsies en jy gaan sukkel om lekkerder vis en tjips êrens anders te kry!
Koste: +- R65 per maaltyd
Meer inligting: Eat Out


12. Verken die wynlandgoedere met die Franschhoek-wyntrem

‘n Mens kan nie die Kaap besoek sonder om ‘n wynplaas (of drie) te besoek nie en wat kan nou beter wees as om wyn te proe by klomp verskillende wynplase met ‘n trem as vervoermiddel? Die Franschhoek-wyntrem bied ‘n hop-on hop-off wynproe-ervaring en het tans ses verskillende lyne wat na verskillende wynplase gaan.
Koste: R220 per volwassene
Meer inligting: Franschhoek wine tram


13. Charly’s bakery

As jy ‘n suikertand het, moet jy beslis ‘n draai by Charly’s Bakery maak. Die kleurryke gebou is vol watertandlekker happies.
Koste: Verskillende pryse
Meer inligting: Charly’s Bakery


14. Fliek by die Labia-teater

Dié teater herinner ‘n mens aan toentertyd se bioskope – van die outydse kaartjiekantoor tot die sitplek in die teater.
Koste: Alles flieks kos R50 per persoon
Meer inligting: The Labia Theatre


15. Blue Peter

Blue Peter is ‘n gewilde bistro in Bloubergstrand en die ideale plek as jy lus is om ietsie koud te knak. Hulle maak heerlike seekos, pizza en vleisdisse.
Koste: Klik hier vir die spyskaart
Meer inligting: The Blue Peter Hotel


16. Drink ’n skemerkelkie by Shimmy Beach Club

Shimmy Beach Club is ‘n seefront-eet-en-leefstyl-venue wat beskikbaar is vir etes, konferensies, skemerkelkies en vele meer met pragtige uitsigte!
Koste: Verskillende pryse
Meer inligting: Shimmy Beach Club


17. Pluk aarbeie by Polkadraai

Dié gesinsvriendelike plaas bied die perfekte daguitstappie vir kinders. Gryp ‘n emmer en pluk soveel aarbeie as wat jy kan! Die kinders kan ná die tyd ander aktiwiteite soos gesigverf, trekker- en ponieritte geniet.
Koste: Vanaf R40 per persoon
Meer inligting: Polkadraai Farm


18. Loop op die Boomslang-loopbrug by Kirstenbosch Botaniese tuine

Die “boomslang” is 130 meter lank en is gedeeltelik tussen die boomtoppe, maar strek ook plek-plek bó die bome om awemrowende uitsigte te bied.
Koste: R65 per volwassene vir toegang tot die Botaniese tuin
Meer inligting: SANBI


19. Kyk hoe word ’n kanondemonstrasie by die Kasteel die Goeie Hoop gedoen

Die kasteel is tussen 1666 en 1672 deur Jan van Riebeeck as ‘n fort gebou. Sorg dat jy vroeg genoeg is om die sleutelseremonie en die kanondemonstrasie te sien wat 10:00 of 12:00 plaasvind. Let wel: dié seremonies vind nie Sondae plaas nie.
Koste: R25 vir kinders en R50 vir volwassenes
Meer inligting: Casteel de Goede Hoop


20. Kyk ’n fliek onder die sterre

The Galileo Open Air Cinema bied jou ‘n fliek-ervaring wat jy nie vinnig sal vergeet nie. Dit vind Dinsdae tot Sondae van 31 Oktober tot einde April elke jaar plaas en daar is verskillende venues waar die vertonings plaasvind:

  • Dinsdae – Bloemendal-wynplaas
  • Woensdae – Kirstenbosch Botaniese tuine
  • Donderdae – V&A Waterfront
  • Vrydae – Verskillende venues in Kaapstad
  • Saterdae – Kaapse wynlandgoedere
  • Sondae – Kelvin Grove

Koste: Ingang begin by R89
Meer inligting: The Galileo


21. Geniet ’n “high tea” by Mount Nelson Hotel

Maak seker dat jy hierdie op jou emmerlys kan aftik en geniet ‘n high tea by die Mount Nelson Hotel. Jy hoef nie ‘n hotelgas te wees om dit by te woon nie. Terwyl jy smul aan heerlike soet- en soutighede kan jy lewendige klavierspel geniet.
Koste: Oggend – R285 per volwasse; middag – R365 per volwassene; aand: R365 per volwassene
Meer inligting: Belmond


22. Sien die kleurryke huise in die Bo-Kaap

As jy graag foto’s neem, moet jy beslis jou kamera inpak en ‘n draai in die Bo-Kaap gaan maak.
Koste: Gratis
Meer inligting: Bo-Kaap


23. V&A Waterfront

Die Victoria & Alfred Waterfront is in die hartjie van Kaapstad se hawe geleë en is die bestemming wat die meeste in Suid-Afrika besoek word. Die Waterfront het genoeg besienswaardighede om die hele gesin heeldag besig te hou.
Koste: Geen toegangsfooi
Meer inligting: V&A Waterfront


24. Geniet ’n tiengangmaal by Die Strandloper

Die Strandloper is ‘n buitelugrestaurant in Langebaan wat ongeveer ‘n uur en ‘n half van Kaapstad af is. Hulle bied ‘n tiengangmaaltyd wat van mossels tot kreef insluit. Jy is welkom om jou eie drinkgoed te vat of by hul strandkroeg te koop.
Koste: R310 per volwasse en kinders ouer as 12 jaar; R60 vir kinders van 5-11; Kinders onder vyf jaar eet gratis
Meer inligting: Die Strandloper


25. Besoek die eetplekke in Breëstraat, Langstraat en Kloofstraat

As jy op soek is na lekker eetplekke met ‘n gesellige atmosfeer, is dié drie strate perfek vir jou!
Koste: Hang van plek tot plek af
Meer inligting: Breëstraat – EatOut; Langstraat – SA-Venues.com; Kloofstraat – EatOut


26. Lê in die son op Clifton se strande

Clifton se 4th strand is ‘n blouvlagstrand en een van Suid-Afrika se gewildste en gesogste strande. Dit word deur bekendes besoek en natuurlik ook deur talle gesinne, want dis naby aan die parkering en ablusieblokke.
Koste: Gratis
Meer inligting: SA-Venues


27. Loer in by die Old Biscuit Mill

Die Old Biscuit Mill is is in die hart van Woodstock geleë en hier sal jy van dag- en nagmarkte, werkswinkels, ontwerperwinkels, heerlike plaasstalletjies, restaurante tot feeste en produksies kry om te geniet! Saterdae is die Neighbourgoods Market van 09:00 tot 15:00 oop.
Koste: Gratis toegang
Meer inligting: The Old Biscuit Mill


28. Besoek Robbeneiland

Besoek die maksimum sekuriteitsgevangenis op Robbeneiland, een van Kaapstad se hooftoeriste-aantreklikhede. Jy kan ‘n kykie in die lewe van voormalige gevangenes kry, die bekendste van almal, Nelson Mandela. Die toere vertrek vanaf die Nelson Mandela Gateway by die V & A Waterfront om 09:00, 11:00, 13:00 en 15:00.
Koste: R340 per volwassene; R190 per kind
Meer inligting: Robben Island Museum


29. Neem ’n foto van die houthuisies op Muizenberg se St James-strand

Muizenberg is bekend vir sy gekleurde strandhutte en is in die skilderagtige Valsbaai geleë. Die strand is ‘n gunsteling onder branderplankryers en gesinne.
Koste: Gratis
Meer inligting: Muizenberg Tourism


30. Besoek die Distrik 6-museum

Distrik 6 is as ‘n gemengde gemeenskap van bevryde slawe, handelaars, ambagsmanne, arbeiders en immigrante gevestig. Op 11 Februarie 1966 is dit egter as ‘n sogenaamde “wit gebied” verklaar en die lewe van die gemeenskap was verby. Meer as 60 000 mense is gewelddadig verwyder en die huise in Distrik 6 is platgestoot. Die museum kyk terug na dié tragiese tye.
Koste: R40 per persoon; R55 vir ‘n begeleide toer.
Meer inligting: District Six Museum


31. Eet ’n pizza by Brass Bell terwyl die branders reg langs jou breek

Dié restaurant in Kalkbaai is in 1939 gebou en dit was aanvanklik ‘n teekamer maar vandag kan jy een van hul ses venues op die proef stel!
Koste: Hang af by watter een van die ses venues jy eet
Meer inligting: Brass Bell


32. Geniet aandete met jou voete in die sand by Grand Africa Café & Beach

The Grand is ‘n gewilde plek net langs die V&A Waterfront waar jy met jou voete in die sand kan sit terwyl jy die pragtige uitsigte bewonder en heerlike kos geniet. Onthou om vroegtydig ‘n bespreking te maak!
Koste: Klik hier vir die strandspyskaart

Leave a Reply